top of page

BLOG

Search

Anél vind haar lewensroeping

Anél Landman, ‘n tutor by Bethlehem Tutorsentrum, se lewe het verre draaie geloop voordat sy as tutor begin werk het.

Anél is ‘n bekroonde “pastry chef.“ Sy het in Clarens begin werk en so goed gedoen dat sy in ons land se deftigste vyfsterhotelle begin werk het – Michaelangelo Hotel in Johannnesburg, sy was deur hulle toedoen in Ierland vir ‘n kompetisie waar sy goud verower het en haar span brons, daarna by die Western Cape Hotel and Spa. Dis die hotel waar die Nelson Mandela Gholftoernooi saam met Ernie Els jaarliks aangebied is. Anél was die “head pastry chef,” die beste tyd van haar lewe. Sy is weer terug na Bethlehem ná haar egskeiding, waar sy in gastehuise en by Polka Dot gewerk het. Toe weer na die Saxon Hotel in Sandton, maar sy het haar kind te veel gemis, wat nog in Bethlehem was.

Voordat sy egter haar fyngebak-passie kon uitleef, het sy as hoërskoolkind in Graad 8 baie siek geword. Sy was ongelooflik moeg en kon nie eet nie, het vreeslik maer geword en dokters kon nie vasstel wat fout is nie. Haar ouers het gedink dis depressie of eetversteurings, en vir die dokters gesê hulle kind is besig om voor hul oë dood te gaan.

Sy is hospitaal toe en uiteindelik het ‘n internis haar gediagnoseer met Addison se siekte. Dit is wanneer die byniere ophou werk en nie meer kortisol en adrenalien afskei nie. So ‘n persoon kan nie spanning hanteer nie en moet medikasie gebruik om die byniere se funksie te verrig. Dit is ‘n lewensbedreigende siekte as dit nie behandel word nie.

Sy gebruik tot vandag toe medikasie, maar daar is baie simptome wat bly – vel wat verdonker, dunner hare, haar skildklier funksioneer ook nie meer nie, daarvoor is ook medikasie nodig. Dis ‘n kenmerk van Addison se siekte, dat die endokriene stelsel mettertyd al hoe meer aangetas word.

Sy is ook meegedeel dat sy nooit sou kon kinders hê nie – en Anél is baie lief vir kinders! Maar almal is verkeerd bewys, haar seun Marshall is vandag reeds vyftien jaar oud. Sy loof die Here vir hierdie wonderwerk…

In haar tyd by die Saxon Hotel het sy weer baie, baie siek geword, selfs haar bewussyn verloor weens die spanning en die verlange na haar seun. Haar ouers, Leon en Tania Badenhorst het toe besluit om haar na hul huis terug te bring en haar onder hul vlerk te neem.

Anél het vir twee jaar lank werk gesoek. Leon het Anita Scott, wiskundige en hoof van ChangeNetSA, goed geken en later het hulle ooreengekom dat Anél ‘n proefperiode as tutor deurgaan, om te kyk of sy daarvan hou – en sy het!

Dit is vir haar lekker om met die kinders te werk en om verandering in die kinders te sien. Sy werk met kinders, waarvan sommige outisties is, wat moeilik is, maar haar liefde vir kinders dra haar deur – en die kinders blom onder haar hande. Die sentrum neem persone in diens wat ‘n “bonding” met die kinders het. En dit was ‘n latente talent by Anél.

Dis wonderlik om ‘n werk te doen wat ‘n “purpose” het. Anél se passie is om mense te help en hierdie werk pas haar soos ‘n handskoen. Die inkomste is ook baie nodig en daar is vooruitsigte in die toekoms by ChangeNetSA.

Haar geloof is haar anker, sy hou haar geloof sterk en sy vertrou volkome op die Here. Deur ander mense met seerkry te help om gesond te word, word haar eie seerkry mettertyd gesond.


ree

 
 
 

Comments


bottom of page