Liezel maak die wêreld ‘n beter plek
- ChangenetSA
- 1 day ago
- 2 min read
Liezel McDuling is bekend in Bethlehem, sy het immers hier grootgeword, en nou maak sy haar merk in die gemeenskap. Dit word ook nasionaal raakgesien…
Liezel het haar skoolloopbaan by Laerskool Jordania en Hoërskool Witteberg voltooi, en daarna aan Stellenbosch gaan studeer. Sy het haarself as spraak-, taal- en gehoorterapeut bekwaam. Sy het haar gemeenskapsjaar in Heilbron gedoen, is getroud – haar man is ook ‘n Bethlehem-boorling, en het vir twee jaar in Krugersdorp gewoon. Hulle het weer teruggekeer na Bethlehem, en Liezel het in die proses ook haar Meestersgraad in Vroeë Kinderintervensie aan die Universiteit van Pretoria verwerf.
Haar ma, Sunette Coetzee, is self ‘n bekende en geliefde persoon in Bethlehem. Sy is ‘n voormalige Afrikaans-onderwyser aan Hoërskool Witteberg, afgetree, maar los nou weer af by Voortrekker Hoërskool.
Liezel is tans ‘n gerekende terapeut wat vanuit haar woning in Panorama, Bethlehem praktiseer, asook in sommige omliggende dorpe. Sy besoek skole met gewone spraakterapie, maar ook vir haar unieke programme. Sy is verder betrokke by leerders met spesiale behoeftes soos outistiese leerders, wat die Outisme Lighuis in Môrelig insluit. Hierdie fasiliteit is deel van die ChangeNetSA Groep se aktiwiteite.
Liezel het waargeneem dat kinders nie meer met begrip kan lees nie, dat ouers nie meer tyd het om vir hul kinders stories voor te lees nie, en sy het ‘n unieke weekliks lesprogram ontwerp wat sy dan by skole en vir individuele Graad RR en Graad R-leerders aanbied. Die program is in die vorm van ‘n reeks boekies met die naam Storiespeurders, en sluit relevante aktiwiteite in. Tweedetaal-leerders vind ook baie baat daarby. Sy fokus verder op die bemagtiging van gesinne, versorgers en opvoeders deur middel van praktiese kommuniskasiestrategieë.
Sy het ingeskryf vir die Mail & Guardian-publikasie se kompetisie vir innoverende jongmense wat uitstaan in hul spesifieke beroepe - persone wat poog om ‘n verskil te maak, om “die wêreld ‘n beter plek te maak.” Uit sowat 5,000 inskrywings is sy as een van die tien presteerders in die afdeling vir opvoedkundiges onder 35 jaar verkies. Voorwaar ‘n groot beloning vir harde werk, toewyding en innovasie.
Die oorhandiging van die toekennings het in Thohoyandou, Limpopo plaasgevind, maar Liezel het die verrigtinge aanlyn bygewoon. Volgens Liezel is om haar eie praktyk te hê baie uitdagend, maar toekennings soos die bogenoemde versterk haar profiel in die gemeenskap, en daarvoor is sy opreg dankbaar.
Vir navrae kan Liezel gekontak word by 061 562 9946.
Deur Retha Pretorius

Comments