Bethlehem-digters styg uit
- ChangenetSA

- Mar 30, 2022
- 1 min read
Twee talentvolle digters van Bethlehem het onlangs aan die Grootste Afrikaanse Dig-en Skryfkompetisie nr. 9 deelgeneem. Vanaf November 2021 tot Februarie 2022 moes digters en skrywers alles uithaal om hul talent te vertoon met die oog op die R 25 000 prysgeld vir die wenner!
Die eerste kompetisie het in 2017 plaasgevind, en is jaarliks geborg deur Louis Liebenberg. Vanjaar was die borg Die Waarheid Media. Slegs lede van die blad Diggroep vir Beginners en Begaafdes/Skryf jou Storie kon deelneem; die kompetisie is ook in die Huisgenoot geadverteer. Verskillende opdragte is weekliks aan die deelnemers voorgelê met sekere kriteria en vereistes wat nagekom moes word.
Die gala-naweek was van 10 Maart tot 13 Maart in die Table Bay Hotel, Kaapstad, met die gala-aand op 12 Maart.
Coenie Horak het die sewende plek in die kompetisie behaal, en kon dus as deel van die Top-10 die gala-naweek bywoon – alle kostes is geborg. Coenie is die hoof van ‘n tutor-sentrum in Panorama, Bethlehem, nadat hy ook vroeër ‘n suksesvolle besigheidspersoon was. Hy het eers die afgelope paar jaar sy talent vir die digkuns ontdek, en gaan nou van krag tot krag daarmee.
Pierre de Villiers het die 18e plek behaal, en was dus onder die Top-20. Pierre is afgetree, woon in Eureka en is in proses om na Nieu-Seeland te emigreer. Sy vrou werk reeds daar sedert net voor Covid-19 uitgebreek het. Pierre sou ook op daardie tydstip vertrek, maar kon toe nie reis nie. Daarom gaan hy eers later vanjaar by sy vrou aansluit. Pierre is reeds tien jaar met die digkuns besig.
Baie geluk aan hierdie talentvolle manne, ons dorp is trots op julle!






Comments