Ons eie digter se werk opgeneem in koffietafelboek oor KI
- ChangenetSA

- Jul 13
- 1 min read
Coenie Horak, tutor by die Bethlehem Tutorsentrum in Môrelig, Bethlehem, het homself gevestig as ‘n digter van formaat in die letterkunde-wêreld. Hy werk tans aan ‘n reeks besonderse koffietafelboeke met spesifieke temas, nagevors deur Pieter Mostert, waarin sy (Coenie) se gedigte verskyn as kreatiewe aanvulling tot die tema. Die onderwerpe is goed nagevors en word professioneel bespreek, en digters se werk word geplaas vir ‘n welkome andersheid en menslike belewenis.
In sy boeke kombineer Pieter poësie met Bybelse waarhede, die skepping en in besonder die ekologie. Sodoende poog hy om die lesers uit te nooi om met nuwe oë na God en Sy skepping te kyk.
Volgens Pieter maak die besonderse wyse waarop Coenie met die digkuns omgaan en sy unieke poëtiese invalshoek van hom ’n onmisbare deeltjie van die metaforiese legkaart.
Coenie se gedigte is reeds opgeneem in die volgende boeke waarvan Pieter Mostert die skrywer en/of samesteller is: Roofvoëls deur die oë van Digters sowel as God, Mens en Masjien. Laasgenoemde boek het pas verskyn, en handel hoofsaaklik oor kunsmatige intelligensie en die mens se geloofslewe.
Daarbenewens is Coenie ook die mede-digter in twee boeke waaraan Pieter tans werk: Die Skepping deur die oë van Digters en Waarom het God vir ons Emosies gegee?
Pieter se boeke word onderskei van baie ander Christelike boeke in die sin dat hy digterlike verbeelding, geestelike diepgang en toeganklike oordenking probeer skep.
Die eersgenoemde twee koffietafelboeke kan nou direk by Pieter Mostert bestel word. Roofvoëls is ‘n A4 sagtebandboek met kleurfoto’s (R800). God, Mens en Masjien is ‘n A5 sagtebandboek (R400). Pieter se WhatsApp-nommer is 083 292 5858.
Deur Retha Pretorius






Comments