Geskenkbokse word ‘n liefdesprojek
Een persoon se droom om kinders se harte te verbly, het gegroei tot ‘n aksie wat talle lewens verander. Annamarie Engelbrecht van Môrelig het in 2025 die droom gehad om die kinders in die omgewing wat swaarkry, se Kerstyd te verhelder met ‘n lekker pretdag en geskenke – Light Up a Child’s Christmas. Sy het Justice en Anita Scott genader, om te hoor of die New Beginnings-terrein in Faurestraat beskikbaar sal wees vir so ‘n geleentheid.
Die Scott-egpaar, wat ook die Bethlehem Tutorsentrum op die terrein bedryf, het ingestem, maar met die tema Jesusliefde, nie die gewone sekulêre Kersfeesvieringe nie.
Annamarie se funksie is gehou rondom 19 Desember 2025, in samewerking met Peter J Muller, ‘n gemeenskapsleier in Môrelig.
Ná Annamarie hulle genader het om weer vanjaar te help, het Justice en Anita gevoel die projek moet wyer vlerke kry. “Bokse vol Jesusliefde” het hieruit ontstaan.
Justice en Anita het met hul plaaslike gemeente gesels oor die projek en hulle het ingestem om ook te help. Justice het 'n praatjie voorberei en dit is op video vasgelê. Ná gebed het hulle besluit het om die video na 'n paar mense te stuur.
Die beraders vir die projek het laat weet dat hulle graag wou help met bemarking en fondsinsameling. Donateurs het hul harte oopgemaak en gehelp om die projek te laat realiseer.
Die ouers en kinders word vanjaar oor ‘n tydperk van drie maande bymekaargebring om hulle op geestelike-, mediese- en voedselvlak te voorsien van hulp, in samewerking met beraders, mediese personeel en Meals on Wheels Bethlehem.
Ouers en kinders ontvang na afloop van die drie maande 'n sertifikaat van bywoning op 18 Desember. Die kinders sal dan ook 'n pretdag geniet en hul bokse vol Jesusliefde ontvang.
Deur Retha Pretorius







Comments