Glansryke ambassadeurs vir ChangeNetSA
- ChangenetSA

- Sep 29, 2023
- 2 min read
Bethlehem het op Donderdagaand 21 September ‘n unieke geleentheid beleef. By die New Horizon College-saal is twee glansryke dames aan die gemeenskap bekendgestel, in hul nuwe rolle as ambassadeurs vir ChangeNetSA se nasionale inisiatief.
Adele Fourie, semi-finalis in die Mrs. Universe South Africa-kompetisie, en Yulienke Jacobs, Miss Teen International, het hierdie glansryke geleentheid verhelder met hul teenwoordigheid, pragtige uitrustings en mooi aanbiedings.
Die seremoniemeester vir die aand was Derrich Gardner, bekende radio- en TV-persoonlikheid, veral bekend vir sy programme op RSG. Op sy meelewende, professionele manier het hy die aand gelei, en baie mense was so bly om hul gunsteling-omroeper in lewende lywe te sien!
Ná die opening en verwelkoming het Justice en Anita Scott, stigters van ChangeNetSA, aan die gehoor ‘n oorsig gegee van die organisasie se werksaamhede van die afgelope vyf jaar, sowel as die planne reeds in plek om hul vlerke nasionaal te sprei.
Daarná is die ambassadeurs bekendgestel. Die dames het hul “sashes” ontvang en elkeen het haar visie oorgedra. Adele het ook die gehoor getrakteer op ‘n lied van Lucas Maree, met sang as een van haar vele talente! Adele sal die volwasse deel van die verteenwoordigende taak behartig, terwyl Yulienke op die jeug sal fokus.
Justice en Anita het mooi klipwerke ontvang, as simbool van en om dankie te sê vir wat hulle in die gemeenskap tot stand gebring het. Soos altyd, gee hulle al die eer aan ons Hemelse Vader.
Die Asrivier-tak van die Vroue Landbou-Unie het heerlike sop en broodjies bedien en die gehoor kon lekker saamkuier. Alda van der Merwe van die VLU het die aand gekoördineer, en is uit alle oorde gelukgewens met ‘n puik geleentheid.
Silent Nite Alarms het, met hul sterk teenwoordigheid, daarvoor gesorg dat persone en voertuie by die funksie veilig is.
Deur Retha Pretorius
Foto, l-r: Derrich Gardner, Adele Fourie, Anita Scott, Justice Scott en Yulienke Jacobs.






Comments