top of page

BLOG

Search

Rolbaldag vir Outisme-bewustheid

Die vakansiedag op 24 September, Erfenisdag, is deur die Bethlehem Rolbalklub en die ChangeNetSA Groep gebruik om ‘n heerlike rolbaltoernooi aan te bied.


Die weer was baie wisselvallig, met tye van reën, sonskyn en dan weer reën, maar die deelnemers was gereed vir enige speeltoestand. Dit was ‘n genotvolle dag, met ernstige spel, pouses vir ‘n lekker eetdingetjie en koffie/tee, en ook ‘n uitnemende ete.


Die dag is deur Louis Nel gereël, in samewerking met Lizané Singleton en ander klublede, om bewusmaking vir Outisme te bevorder, en ook om fondse te genereer vir die Bethlehem Tutorsentrum in Môrelig se “Lighthouse” Outisme-afdeling. Louis is ook ‘n tutor by die Bethlehem Tutorsentrum.


Die geleentheid is begin met 'n kort inligtingsessie oor Outisme, deur die tutorsentrum. Die prysuitdeling aan die einde van die dag het ook die opveil van ‘n biltongmandjie ingesluit, en wenners van die goed-ondersteunde Econofoods koopbewyslootjies is aangekondig. Die wenners van die dag se spel is tydens die prysuitdeling aangekondig, en elke span tot en met die derde plek is met kontantprysgeld beloon.


Die wins van die dag sal aangewend word om opvoedkundige materiaal vir die Autism Lighthouse aan te koop.


Deur Retha Pretorius



 

 

 
 
 

Comments


bottom of page