Spesiale Kersgeleentheid vir 103 kinders in Môrelig
- ChangenetSA

- Jan 14
- 1 min read
‘n Groep omgee-inwoners van Môrelig in Bethlehem se Kersgeleentheid vir kinders, gehou op Vrydag 19 Desember, was besonder vreugdevol. Dit het plaasgevind op die perseel van New Beginnings in Faurestraat.
Altesaam 103 kinders tussen een en dertien jaar, van hulle wat andersins nie so ‘n Kersviering sou gehad het nie, is bederf met ‘n middag van vreugde, hoop en lag.
Van 14:00 tot 17:00 is daar gespeel en is die kinders bederf met speelgoedgeskenke, sakkies lekkers, skyfies, koeldrank en vrugtesap. Die ogies wat geblink het en die lag wat deur die lug geklink het asook die vrolikheid by die springkasteel was alles moontlik danksy die vrygewigheid van die Môrelig-gemeenskap en vriende.
“Ons wou net hê hierdie kinders moes weet dat hulle gesien word en dat daar vir hulle omgegee word,” sê een van die vrywilligers. “Die gemeenskap het weereens gewys hoe groot hul harte is.”
Peter Muller, wykskomiteelid vir Wyk 18 in Dihlabeng (Môrelig) sê die inisiatief, bekend as “Light Up a Child’s Christmas” is sonder enige begroting of fondsinsameling aangepak deur Annemarie Engelbrecht. Die goedhartigheid van mense en besighede was verstommend.
“Die vrywilligers wat by die Kersprojek betrokke was, is diep dankbaar vir al die welwillendheid. Julle het letterlik Kersfees vir hierdie kinders laat gebeur. Ons bid dat die nuwe jaar vir julle en jul geliefdes sal oorloop van seëninge, vreugde en oorvloed. “Môrelig het weer bewys dat ‘n gemeenskap saam sterker is.”
Die gesigte van die kinders is uitgeblok, hoewel die vyrwaringsvorm van POPIA deur al die ouers onderteken is. Die span in die groepfoto is, links na regs, voor: Zack Muller en Annemarie Engelbrecht. Agter is Nicolette de Kok en Peter Muller.







Comments