top of page

BLOG

Search

Albert leef sy droom

‘n Jong man van die Bethlehem-omgewing, ‘n ware plaasseun, Albert van Eeden (19), kan vandag met trots sy storie vertel. Dis ‘n verhaal van ‘n soeke na oplossings, en hoe ‘n instansie met mense wat omgee hom die kans gegee het om tot sy reg te kom op alle vlakke.


Ek (Retha) het met sy ma, Elaine, gesels, en gehoor hoe sy pad geloop het tot waar hy vandag op sy ouers se plaas boer, hoe hy by hul gastehuis die leisels neem, en hoe hy sy droom uitleef.


Albert het reeds sedert Graad 2 die skoolopset moeilik gevind, en daar is vermoed dat hy ADHD ondervind. ‘n Professsor by wie sy ouers gaan aanklop het, het egter verduidelik dat sekere kinders net nie in die gewone skoolstelsel kan funksioneer nie. Albert het gevoel dat die stelsel hom verveel, want hy is kreatief en wil nie beperk word nie. Hy was voortdurend in konflik met die stelsel. Hy kon nie die nut van wat hy moes leer insien nie, en het altyd gesoek na die praktiese toepassing van wat hy moet instudeer.


Hierdie situasie het gedragsprobleme veroorsaak, en in Graad 9, gedurende Covid, is hy by dr. Anita Scott se Wiskundesentrum ingeskryf, omdat hy so agter geraak het weens die grendeltyd. Anita het die gesin ingelig oor die nuutgestigte tutorsentrum wat sy en haar man, Justice, ook bedryf, en Albert is daar ingeskryf. Soos met alle ouers, was dit moeilike besluit, maar een waaroor hulle vandag innig dankbaar is.


Coenie Horak, Albert se tutor, moes hom aanvanklik maar vasvat, en geleidelik het die gedragsprobleme al minder geword. Vir Albert se ouers was die Bethlehem Tutorsentrum ‘n reddingsboei. Coenie was altyd bereid om die ekstra myl te loop vir Albert, om hom leiding te gee, en ook om terugvoer te gee sodat iets reggemaak of oorgedoen kan word, totdat hy dit bemeester het. In die sentrum-opset is daar altyd ‘n kans om weer te probeer. Daar word ‘n balans gevind tussen die akademie en menswees.

  

Elaine het bygevoeg, by die sentrum is daar altyd gesoek na oplossings, vraestelle en ander materiaal is altyd beskikbaar, daar is oop kommunikasie en die kinders kan goeie menseverhoudinge aanleer met die mengsel van tale en kulture wat saam met hulle die sentrum bywoon.  Kinders voel tuis daar, koppe lig, glimlagte verskyn, emosionele pyn word gesond - want daar is mense wat omgee. Daar is oplossings, daar is hoop…


Aan die einde van 2024 het Albert sy matriek - en ook sy Wiskunde -  met vlieënde vaandels geslaag. Hy was gemotiveer, want hy kon vakke neem wat vir hom interessant is, soos Toerisme.


Vandag is Albert gelukkig op die plaas, besig met die boerdery en die toeriste; hy loop ook kursusse in verskeie aspekte van die familie-besigheid om sy vaardighede uit te brei.


Albert het sy plekkie gevind.


Deur Retha Pretorius

Foto: Coenie Horak en Albert van Eeden.
Foto: Coenie Horak en Albert van Eeden.

 
 
 

Commentaires


bottom of page