VLU Kestell-tak besoek die ChangeNetSA Groep
- ChangenetSA
- Aug 11
- 1 min read
Op Woensdag 23 Julie het ‘n groep dames van die Vroue Landbou Unie se Kestell-tak ‘n besoek aan Bethlehem gebring. Hulle het spesifiek twee hulpverleningsinstansies kom besoek, soos gereël deur een van die lede, Elize Claasen, as deel van haar portefeulje, naamlik Welwillendheid.
Hul besoek was aan New Beginnings in Môrelig, waar ook die Bethlehem Tutorsentrum en die Outisme Lighuis geleë is, asook die Pakhuis/Warehouse op die hoek van Union en Naudéstrate, wat instansies is wat gemeenskapshulp verskaf onder die vaandel van die ChangeNetSA Groep.
By New Beginnings het hulle die perseel deurgestap en besigtig, van die hokke met hasies, ganse en hoenders, die Meals on Wheels kombuis, die tutorsentrums en die woonkwartiere van inwoners tot die kantoorblok. Daarna het hulle hul vergadering in die “boardroom” gehou en heerlik tee en verversings geniet.
Die Pakhuis was hul volgende bestemming, waar hulle ook die perseel besigtig het, en ingelig is oor die werking van die pakhuis, wat gebruikte klere en Meals on Wheels-voorrade huisves.
Die groep dames het die besoeke baie geniet; dit was vir hulle ‘n vervullende en leersame uitstappie.

Comments